Antieke Nabye Ooste |
---|
Streke en state |
Die Levant |
Argeologiese tydperke |
Tale |
Mitologie |
Ander onderwerpe |
Die antieke Nabye Ooste was die tuiste van vroeë beskawings in ’n streek wat rofweg ooreenstem met die moderne Midde-Ooste: Mesopotamië (moderne Irak, Suidoos-Turkye, Suidwes-Iran, Noordoos-Sirië en Koeweit),[1] antieke Egipte, antieke Iran (Elam, Medië, Partië en Persië), Anatolië/Klein-Asië en die Armeense Hooglande (Turkye se Oos-Anatolië, Armenië, Noordwes-Iran, Suid-Georgië en Wes-Azerbeidjan),[2] die Levant (moderne Sirië, Libanon, Palestina, Israel en Jordanië), Siprus en die Arabiese Skiereiland. Die antieke Nabye Ooste word bestudeer in die velde Nabye Oosterse argeologie en antieke geskiedenis.
Die geskiedenis van die antieke Nabye Ooste begin met die opkoms van Sumer in die 4de millennium v.C., hoewel die eindtyd van bron tot bron verskil. Die term dek die Brons- en Ystertydperk in die streek tot óf met die verowering van die Achaemenidiese Ryk in die 6de eeu v.C. óf dié van die Masedoniese Ryk in die 4de eeu v.C. óf die Moslemse verowerings in die 7de eeu v.C.
Die antieke Nabye Ooste word beskou[3] as een van die wiege van die beskawing. Dit is hier waar intense landbou dwarsdeur die jaar vir die eerste keer beoefen is. Dit het gelei tot die eerste digte stedelike nedersettings en die ontwikkeling van baie bekende instellings van die beskawing, soos sosiale klasse, gesentraliseerde regering en ryke, en georganiseerde godsdiens en welsyn. Dit het ook gelei tot die eerste skryfstelsel, alfabet (abjad), geldeenheid en regskodes, vroeë ontwikkelings wat die fondament gelê het vir sterrekunde en wiskunde, en die ontdekking van die wiel.
In dié tydperk het state al hoe groter geword, totdat die streek beheer is deur militaristiese ryke wat ’n aantal verskillende kulture verower het.